Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARLNUUS SONDAG 25 MEI 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In vandag se SARLNuus:

PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

SARL RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE OP PAD NA PORT ELIZABETH VOLGENDE NAWEEK

GROOT VERANDERINGS IN DIE HANTERING VAN QSL-KAARTE

KLK IN DIE KOLLIG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

Die gewysigde Presidentsnet- en Integnetskedule tree vanaand in werking. Die Presidentsnet is vanaand om 19:30 op die lug.

Twee raadslede sal by SARL-president Rassie Erasmus aansluit: Mark Zank gaan ‘n oorsig gee van die Radioamateureksamen en Malcolm Kriel sal die Jeugdagaktiwiteite vir 16 Junie bespreek. Die Presidentsnet sal op Echolink en die web beskikbaar wees. Gaan na www.sarl.org.za, klik op “publications” en dan op “ARMI” en volg die skakels.

Klubs wat by die telekonferensie wil inskakel om hulle plaaslike herhalers te koppel, moet hul telefoonnommer voor 12:00 vanmiddag aan armi@sarl.org.za stuur.

Die volgende Integnet is op 22 Junie op die lug.

MEI-RAE-UITSLAE

Die uitslae van die Mei-RAE is beskikbaar by www.sarl.org.za. Baie geluk aan almal wat suksesvol was.

SARL RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE OP PAD NA PORT ELIZABETH VOLGENDE NAWEEK

Die SARL Radiotegnologie in Aksie-simposium word volgende Saterdag, 31 Mei, by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth aangebied. Die RTA begin met ‘n bespreking oor tegnologie gelei deur die SARL-visepresident, Dennis Green. Jan Botha, voorsitter van die Bloemfontein Radioamateurklub, sluit by Donovan van Loggerenberg, Ivan Newman en Chris Scarr aan op die paneel.

Die program behels aanbiedings oor ‘n reeks nuwe tegnologieë en aktiwiteite in amateurradio. Alle aanbiedings is op ‘n gemaklike vlak en almal wat dit bywoon sal dit geniet en leersaam vind. Die toegangsgeld is R20. Studente en leerders woon gratis by. Daar is ‘n klompie bywoningspryse om te wen, insluitende ‘n Yaesu handdraagbare radio. Die volledige program is beskikbaar by www.sarl.org.za. ‘n Afskrif in PDF-formaat kan aangevra word wat aan jou gefaks of per e-pos gestuur sal word. Rig jou versoek aan armi@sarl.org.za.

GROOT VERANDERINGS IN DIE HANTERING VAN QSL-KAARTE

QSL-bestuurder Francois Botha het groot veranderings aangekondig vir die werking van die QSL-buro. Hierdie veranderings is gemik op die vaartbelyning van die Burodienste en om ‘n beter diens aan lede te verskaf.

Soos die postariewe jaarliks verander, is die meeste koeverte wat by die Buro gehou word, nie meer geldig om QSL-kaarte te pos nie. Om hierdie probleem op te los, word lede aangeraai on DL- of B5-koeverte by die poskantoor aan te koop. Hierdie koeverte word met seëls gedruk en bly geldig al verander die posgeld. Die QSL-buro het tans van dié koeverte wat deur lede ingestuur is.

Vir inkomende ledekaarte, gaan die nuwe stelsel soos volg werk:

Soos die kaarte ontvang word, word hulle gesorteer. Dit gaan ‘n tydjie neem omdat die QSL-buro deur ‘n paar vrywilligers bedryf word. Lede is geregtig op twee gratis posversendings van ongeveer 10 kaartjies elk per jaar. As daar meer as 10 kaartjies is, sal lede ‘n nota ontvang wat aandui hoeveel kaartjies daar nog is en hoeveel DL- of B5-koeverte aan die Buro versend moet word. Lede mag addisionele koeverte stuur en kaartjies meer gereeld ontvang. Stuur asseblief slegs voorafgefrankeerde koeverte wat by die poskantoor aangekoop is.

Die uitgaande QSL-buro sal aangaan soos in die verlede en ledekaarte tot en met 3 kg per jaar gratis versend. Nadat die 3 kg opgebruik is, sal addisionele posgeld gehef word vanaf die lid.

Omdat daar ‘n groot getal QSL-kaarte vir nie-lede opgegaar is, gaan die kaarte gesorteer word en nie-lede sal verwittig word van die getal kaartjies en versoek word om ‘n hoeveelheid voorafgefrankeerde koeverte en ‘n hanteringsfooi aan die Buro te stuur. As daar na 60 dae geen reaksie is nie, word die kaarte vernietig.

Volgens die IARU se QSL-reëls, is die SARL nie verplig om kaarte vir nie-lede te hanteer nie. Dit sal dus nie meer gedoen word nie, en kaarte vir nie-lede sal voortaan by aankoms vernietig word. Dit is dus vir alle DXers belangrik om ‘n lid van die SARL te wees en nie hul lidmaatskap te laat verval nie.

Vir meer inligting, kontak asseblief vir Francois Botha, ZS6BUU, by 011 679 5260.

KLT IN DIE KOLLIG BY KONFERENSIE OOR TEGNOLOGIE VIR HOËSPOEDTOEGANG

Kraglyntelekommunikasie oftewel KLT was vandeesweek in die kollig by die derde jaarlikse konferensie oor tegnologie vir hoëspoedtoegang wat in Midrand gehou is. Teddy Naidoo, die Telekommunikasiebestuurder vir Johannesburg City Power, het gepraat oor die vraag of kraglynkommunikasie nog ‘n lewensvatbare, kostedoeltreffende oplossing is in die lig van die toestand van kragvoorsiening in Suid-Afrika. Hy het aan afgevaardigdes vertel dat KLT se tegnologiese ontwikkeling tans so gevorderd is dat die steuringsprobleme wat oor die afgelope jaar geopper is, nie meer bestaan nie. Hy het gesê dat dit jammer is dat daar nog mense is wat sê daar is nog probleme.

Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, het die SARL se standpunt dat enige steuring aan die HF-radiospektrum nie aanvaarbaar is nie, voorgehou in ‘n aanbieding getiteld “Examining the pitfalls of PLT in South Africa”. Hy het gesê dat die huidige konsepregulasies nie genoegsame beskerming aan die HF-spektrum bied nie, en van die SARL se besware teen die regulasies uitgelig. Die konsep onder bespreking is gebaseer op die FCC-standaarde, wat gereeld onder skoot kom vanaf die ARRL en ander kommunikasie-entiteite in die VSA. Hy het afgevaardigdes vertel dat die ARRL onlangs ‘n hofsaak teen die FCC gewen het, en dat die FCC berispe is omdat dit nie die korrekte prosedure gevolg het met die hersien van toetsuitslae waarop KLK-regulasies gebaseer is nie. Hy het ‘n beroep op verskaffers van KLK-toerusting gedoen om steuringstoetse op KLK-toerusting openbaar te maak. Die SARL se PowerPoint-aanbieding is beskikbaar by www.sarl.org.za, klik op PLC.

STUUR VAN E-POS AAN DIE RAAD

Die SARL het twee e-pos adresse wat gebruik kan word om aan die SARL te skryf. Alle korrespondensie aan die president en raadslede moet gestuur word aan die sekretaris, Henry Chamberlain. Die e-pos adres is secretary@sarl.org.za. Alle korrespondensie aangaande adresveranderings en ander administratiewe sake moet geadresseer word aan admin@sarl.org.za. Ander adresse soos president@sarl.org.za word nie meer gebruik nie.

Ontvangs van alle pos aan die sekretaris sal erken en deur die sekretaris afgehandel word, of aan die betrokke raadslid gestuur word vir afhandeling. Die voordeel van die stelsel is dat alle pos opgevolg en antwoorde vinniger verkry kan word.

TOEKENNINGS OORHANDIG BY GALAFUNKSIE

Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust se toekennings is verlede Vrydag tydens ‘n galafunksie in Midrand oorhandig. Die gasspreker was Colin Smith en hy het gepraat oor die generasiegaping en hoe om dit te oorbrug.

Die Garth Milne-tegnologietoekenning is aan John Willescroft, ZS6EF, oorhandig vir sy ontwikkelingswerk op die SARL-HMO-bakenprojek en die BHF- en HF-baken wat later vanjaar op die volgende BACAR sal vlieg. Hierdie toekenning was in die verlede die Radioamateur van die Jaar-toekenning, maar die naam is verander ter nagedagtenis van wyle prof. Garth Milne en sy bydrae tot amateurradiosatelliete in Suid-Afrika.

Die Nokia Siemens Netwerke-toekenning vir Radioamateur van die Jaar is aan Graham Hartlett, ZS6GJH, oorhandig vir sy bevordering van amateurradio tydens sy vyf jaar as SARL-president en die regering se herkenning van die SARL as die nasionale liggaam vir amateurradio in Suid-Afrika.

Die Nokia Siemens Netwerke-toekenning vir Amateurradio-gemeenskapsdiens is aan Craig Symington, ZS6RH, oorhandig vir sy werk in die oprigting van ‘n wye-area-herhalernetwerk wat die groter Tshwane-metrogebied dek en gebruik maak van verskeie slaafontvangers in ‘n sterkonfigurasie.

Besoek www.amateurradio.org.za vir foto’s en meer inligting.

BACAR UITGESTEL

Die lansering van BACAR is uitgestel weens ‘n probleem met die lanseringsterrein en ‘n klompie tegniese probleme. Besoek www.amsatsa.org.za vir gereelde opdaterings en nuwe datums.

KOMPETISIENUUS

Die uitslae van die BHF/UHF-naelloop gehou op 24 Februarie moet gewysig word nadat ‘n verlore logstaat ontvang is. Die uitslae is soos volg: 1ste Jan Botha, ZS4JAN, 96 punte, 2de Marius Preston, ZS4MP, 52 punte, 3rde Dennis Green, ZS4BS, 46 punte en 4de Tyron Brown, ZU5T, met 20 punte.

Die tweede BHF/UHF-naelloop vind plaas vanaf 16:00 tot 17:00 SAT op Sondag 1 Junie 2008. Aktiwiteit is op 2 meter en 70 sentimeter.

Die SARL Jeugdagnaelloop word op 16 Junie gehou en meer besonderhede sal in volgende week se bulletin verskaf word.

Die SARL Top Band QSO-geselligheid sal op die lug wees vanaf 18:00 SAT op 18 Junie tot 06:00 SAT op Maandag 23 Junie. Die doel van hierdie QSO-geselligheid is om aktiwiteit op die 160-meterband te bevorder en ook om die SARL Top Band sertifikaat te verower.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil tot onrustig wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die noordelike rigtings maar swak in die algemeen noordwestelike rigtings.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 15- en 20-m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15- en 20-m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer.

Saans is 80 m die beste keuse – bygesê, as donderstorms en statiese steurings dit toelaat! Kort voor lank gaan 160 m weer baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Mei - RTA in Port Elizabeth;
1 Junie – VHF/UHF Naelloop;
8 Junie – Sluitingsdatum vir inskrywings vir Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging se klubwapenkompetisie.
16 Junie – Jeugdagnaelloop;
18 tot 23 Junie – SARL Top Band QSO-geselligheid.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003